Die krag van Godswoord

Ek het al dikwels gewonder hoe dit moontlik is dat God steeds verkondigers van die Woord met bevraagtekenbare leefstyle se bedieninge kan gebruik. Miskien het julle dit al ook oorgekom: jou pad kruis met iemand met ‘n charismatiese persoonlikheid; iemand wat die hoogste hoogstes in hul betrokke denominasies bereik het; wat leiersposisies beklee het; iemand wie se gemeente as die modelgemeente gesien word – maar tog het jy bewus geword daarvan dat die persoon se lewe ver van dit is wat God van ‘n kerkleier verwag.

My paaie het ook al met sulke mense gekruis. Wat ek uit die lewens van hierdie mense geleer het is dat God sy Woord gebruik en nie noodwendig die mens nie. Solank God se Woord onvervals verkondig word, kan God selfs klippe gebruik. God eer sy Woord. Sy Woord is lewenskragtig. Wat ‘n troos in ‘n wêreld vol mense wat die evangelie om die verkeerde motief verkondig!

Tog het ek ook gesien hoe God hierdie mense se sonde openbaar. Hoe leiers na wie opgekyk is, skielik van die kerklike toneel verdwyn om selde weer van gehoor te word. Verskietende sterre wat uiteindelik in die niet verdwyn. Hoe tragies egter vir diegene wat in die kerk agterbly; verpletterde mense wat agter hul leier gestaan het wat hulle gehelp het om in hierdie wêreld vir die Here en sy eer op te staan.

Maar wat ek veral uit hierdie dinge geleer het, is dit om nooit my hoop op ‘n mens te stel nie. Dat mense teleurstel. Maar om self te waak want ons is almal feilbaar. Ek het geleer om op God se Woord vas te staan – dit het deur die eeue nie verander nie en staan so vas soos dit 1000 jaar gelede vas gestaan het. Ag, dat God meer leiers sal opwek soos Paulus en die ander apostels, soos die reformeerders; mense wat bereid is om hul lewens te gee ter wille van die God en sy koninkryk. Mense wat nie hul eie gerief, gesondheid, eer, geld en seksualiteit bo God stel nie.

Maar God was nog altyd getrou om sulke mense daar te stel. Daarom dank ek Hom vir elkeen wat in Suid-Afrika sy lig laat brand vir Sy koninkryk. Laat ons hierdie mense ondersteun in hul roeping.

Maar laat óns … die oog vestig op Jesus (en nie op mense nie), die Begin en Voleinder van die geloof… (Hebr. 12:1-2) – wat ons van struikeling sal bewaar!

3 responses to “Die krag van Godswoord

  1. Hoekom seksualiteit inboet?

  2. Stem saam met jou. Hulle moet bly by Hebreurs 4:12. Groete, Sunette Mathewson

  3. Is die probleem dalk(geduld)een van die aspekte van geloof wat mense mis kyk.
    Ons leiers gee antwoorde aan (lamers)waneer hulle
    self nog moet vra?
    Raak hulle te vroeg LEIERS bevind hulself in n posiesie waar hulle antwoorde moet uit dink.
    Deur die proses (bevind hul hul self in ???)

Lewer kommentaar