Daily Archives: Junie 16, 2007

Die Bybel vs Moderne Sielkunde

Dink ‘n bietjie hieroor na…

Het julle al ooit gaan sit en mooi dink oor die teenstrydigheid tussen die Bybel en moderne sielkunde? Al ooit agtergekom dat sielkunde en die Bybel twee teenoorgestelde pole verteenwoordig?

Die moderne sielkunde mag vir meeste mense as ‘n wetenskap voorkom, maar baie van die aannames van hierdie studierigting, is glad nie wetenskaplik nie. Inteendeel, Sielkunde is op sy beste eintlik maar net ‘n kwasi-wetenskap wat die mens se probleme op ‘n anti-Bybelse wyse probeer oplos.

Nog erger as sielkunde is die huwelik tussen sielkunde en die teologie in die sogenaamde vakrigting van die pastorale sielkunde, waar die Bybel ingeweef word in die sielkunde om sielkunde ‘n aanvaarbare “kleur” in die kerk te gee. En net soos valse leer die kerk in die geheim insluip, het die leuen van sielkunde die kerk ingesluip en die kerk veragter – en dit was die oorsaak dat die kerk kompromie gemaak het en sondes soos homoseksualiteit, verslawende leefwyses soos byvoorbeeld kleptomanie, dwelmverslawing, ens. ‘n “mediese” kleur kom gee – terwyl die Woord van God die probleme van al die sielkundige wrakke aanspreek as sonde.

Daarom dat daar vandag so iets soos “konstitusionele homoseksuele” is – homoseksuele wat kwansuis “so gebore is.” Dit was die moderne sielkunde wat homoseksualiteit ‘n “sielkundige afwyking” geklassifiseer het. Voor hierdie klassifikasie deur sielkundiges gemaak is, is homoseks as sonde en selfs misdaad beskou. Daarom het ons glad nie nodig om vir die Amerikaanse Sielkundige Vereniging hande te klap omdat hulle later homoseksualiteit van hul lys sielkundige afwykings verwyder het nie – dit moes in die eerste plek glad nie eers op hul lys gewees het nie. ‘n Sondige leefstyl wat ‘n “mediese” kleur gegee is wat nooit ‘n “mediese” kleur gehad het nie. ‘n Uitstekende strategie uitgedink deur die mensemoordenaar – die Satan! En die kerk het daarvoor geval!

Moderne sielkunde het een van die grootste vyande van die kerk uitgedraai en is vandag grootliks verantwoordelik die geestelike afvalligheid in die kerk, asook die verwerping van die algenoegsaamheid van die Woord van God om “sielkundige probleme” – of eintlik sonde – aan te spreek. Die Woord van God neem vandag die laaste plek in wanneer dit kom by berading van mense met probleme – en mensewysheid word telkens bo die wysheid van God en sy Woord gestel.

Neem byvoorbeeld een van die fundamentele stellings van die sielkunde, naamlik dat die mens inherent “goed” gebore word en deur omstandighede in sy lewe, soos hy ouer word, verdorwe raak. Daarteenoor die Woord van God wat verklaar dat die mens in sonde ontvang en gebore word! Vergelyk ook die sielkunde se obsessie met die verlede van diegene wat vir behandeling aanmeld, terwyl Paulus die voorbeeld stel en in Filippense 2 getuig dat hy die dinge wat in sy verlede plaasgevind het agter hom sit en hom uitstrek na dit wat voor lê. Dit is alleen deur ‘n doelbewuste keuse te maak om aan te beweeg van ‘n pynlike verlede waarin oorwinning lê vir iemand met ‘n pynlike verlede – om God te vertrou om die seer te genees. Maar dis voorwaar soos Jeremia skryf dat ons die gebarste reënbakke verkies bo dit wat die Here ons bied: volkome genesing as ons Hom net wil vertrou.

Stel gerus ‘n bietjie ondersoek in en ontdek hoeveel van die sielkunde-“feite” eintlik maar niks meer as spekulasie is nie. Doen self so bietjie navorsing en ontdek hoeveel verskillende teorieë daar bestaan om sekere “afwykings” te verklaar. Op ‘n kongres vir sielkundiges gehou in Phoenix in die VSA het Dr. Joseph Wolpe, ‘n kenner van gedragsterapie verklaar dat die kongres beskryf kon word as “‘n babel van teenstrydige stemme!”

Die naam “sielkunde” dui aan dat daar iets skort met die studierigting: die vakrigting bedien die siel van die mens – en die siel van die mens is juis die terrein waarmee die Skrif hom besig! Die Bybel is God se sielkunde-handleiding vir die mens. As ons net meer gehoor gee aan die voorskrifte daarin, sal ons baie minder sielkundige probleme hê. Pastorale sielkunde is nie ‘n probleem indien dit aan die hand van die Skrif beoefen word nie, maar aan die hand van die teorieë van ateïste soos Freud, en spiritiste soos Jung… Dis ‘n perd van ‘n heel ander kleur!

Vir die van julle vir wie sielkunde nooit gewerk het nie, en altyd gewonder het waarom nie, kry vir julle gerus een van die volgende boeke en lees dit:

Biblical Counseling – John F. MacArthur en Wayne Mack; 1994, Word Publishing House

PsychoBabble – Richard Ganz; 1993, Crossway Books