Die Bybel oor oordeel

WAT Sê DIE BYBEL OOR DIE BEOORDELING VAN DIE LEEFSTYL VAN ANDER?

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie … (Matteüs 7:1) Seker een van die bekendste Bybelteksverse. En een van die mees verdraaide tekste wanneer dit aangehaal word deur meniges.  Wat het Jesus bedoel toe Hy dié woorde gespreek het? 

Baie mense eïen hulself die reg toe om mense te veroordeel omdat hulle hulself hoër ag as ander – dat hulle op ‘n hoer geestelike plein is as ander. Dit is hierdie gesindheid wat Jesus in hierdie teksvers wil aanspreek. Slegs God is in staat om te veroordeel omdat slegs Hy die hart van die mens ken. Wanneer mense mekaar oordeel, dan neem ons God se rol oor, en geen mens kwalifiseer hiervoor nie – daarvoor is ons as mens onbekwaam, omdat ons onmoontlik al die feite, omstandighede en motiewe kan ken nie. 

 Jakobus waarsku dat diegene wat ander leer versigtig moet wees, omdat leraars strenger beoordeel sal word (jakobus 3:1). Ons is verder veral sonder verskoning as ons ander veroordeel wanneer ons self nie toepas wat ons ander leer nie (Romeine 2:1-2). God is nie ‘n god van dubbelstandaarde wat toelaat dat ons veroordelend teenoor mekaar is nie en Hy waarsku dat met dieselfde oordeel waarmee ons oordeel, Hy ons ook sal oordeel (Matteus 7:2). Wanneer ons ander onbarmhartig en onregverdiglik oordeel, sal Hy ons netso beoordeel. Nêrens stel God die mens aan om ander te veroordeel nie en hierdie teks is ernstige waarskuwing aan ons om nooit die sonde te begaan om ander te veroordeel nie. Dit is ‘n groot sonde om selfregverdigend ander te veroordeel. 

Daar is egter groot verskil tussen oordeel en beoordeel. Eersgenoemde verwys na die verdoeming van ‘n persoon. Die tweede verwys na ‘n goedkeur of afkeur van ‘n leefstyl of ‘n leer. Om iets te beoordeel vereis dat daar ‘n reg en verkeerd is, ‘n norm. Sonder ‘n norm kan ons nie iets beoordeel nie.  Nou is die vraag egter wat die korrekte norm is en wie dit bepaal? Deur die eeue heen het die mens self probeer om die bepaler van norme te wees en hierin het hy nie goed geslaag nie. Ons regering het so ongeveer 60 jaar bepaal dat dit “reg” is dat wit en swart mense nie geïntegreer moet leef nie. Ons verskil vandag met hulle. Twee honderd jaar gelede was dit nie verkeerd om slawe te hê nie, nou is dit ongehoord. Sopas het ons gehoor dat dit onwettig is as tieners onder sestien mekaar intiem soen, tog is dit nie vir hulle onwettig om hul eie kind te aborteer sonder hul ouers se toestemming nie!  

Die misdaad in ons land krap menigtes om, sommiges so erg dat hulle land-uit vlug. Ek is seker dat indien ons vir mekaar moet vra of ons dink dit reg is, dan sal ons almal saamstem dat dit onaanvaarbaar is. Ons wil graag toesien dat die moordenaars van ‘n egpaar en hul kinders tydens ‘n plaasmoord aan die pen ry. Tog sien die moordenaars dit as die enigste uitweg om geld te “verdien.” Homoseks was vir eeue as misdaad geklassifiseer en is tewens steeds volgens verskeie Afrika-lande ‘n misdaad. In Moslemlande kan diegene wat daaraan skuldig is, selfs die doodstraf kry.

Om te beweer dat daar geen reg of verkeerd is nie, of dat ‘n samelewing bepaal wat reg of verkeerd is, is naïef,  aangeien mense se denke nie staties is nie, dit verander deurgaans. Gemengde huwelike is vandag nie meer iets snaaks nie, terwyl dit etlike jare gelede vir meeste mense in Suid-Afrika onaanvaar was. 

Dis verkeerd om sonder ‘n motorlisensie te bestuur, al kan jy bestuur. Dis verkeerd om deur ‘n stopstraat te ry of aan die verkeerde kant van ‘n pad. Dis verkeerd om deur rooi robotte te jaag of 160 km/h in ‘n 80 km/h-sone. Dis verkeerd om sonder ‘n valhelm motorfiets op ‘n openbare pad te ry. Dis verkeerd om by iemand se huis in te breek en sy eiendom te steel. Dis verkeerd om by Tafelberg se kabelkar uit te spring en te probeer afvlieg na die Waterfront (sonder die nodige vliegtoerusting). Dis verkeerd om iemand se kop onder die water in jou swembad te druk vir langer as vyf (vier, drie…) minute sodat jy kan sien hoe lank hy sy asem kan inhou. Dis ook verkeerd om jou vrou met jou motor se wielmoersleutel te slaan omdat sy nie na jou pype dans nie. Dis verkeerd om vet-vleis te eet as jy hoë cholesterol het. Dis nie reg om ander mense se huise af te brand of hulle kinders te verkrag nie. Dis ook nie reg om mans huis toe te neem en slaapmiddels in te gee sodat jy hulle koppe in jou vrieskas kan berg en hul biseps en triseps kan braai vir Sondagmiddagete nie. Of is dit?  

Waar trek ons die streep? Wie moet bepaal waar die streep getrek word? Die taxibestuurders wat in spritsverkeer ons in die noodbane verbyflits? Die pedofiele wat ons van ons kinders beroof om hulle te verkrag en daarna van hulle liggame in stormwaterpype ontslae raak? Of die verkeersbeamptes wat ons leerderbestuurderslisensie-toetse vroeër sal “indruk” vir driehonderd rand? Of miskien die Jeffrey Dahmer’s wat ‘n voorkeur vir swart manlike homoseksuele vir middagete gehad het? Of die departement van gesondheid se voorkeur vir die Afrika-aartappel vir behandeling van VIGS? Wat van Toni Yengeni as minister van vervoer?  God se antwoord op die vraag wat reg of verkeerd is, is in die Woord. Al die antwoorde vir hierdie vrae en enige ander, kan beantwoord word met God se woord as ewige riglyn.

Let op dat ek NIE onder enige omstandighede vir Jeffrey Dahmer veroordeel nie. Ek veroordeel ook nie vir Tony Yengeni nie. Tog kan enigiemand hul keuses as onwys en verkeerd uitwys. Volgens my oordeel (as beoordelaar) is hulle (asook al die bogenoemde voorbeelde van besluite wat mense elke dag neem) verkeerd. Waarom? Omdat hierdie besluite nie net ander tot nadeel strek nie, maar ook hulself. 

Die vermoë wat God elke mens gee om te kan beslis tussen reg en verkeerd, noem ons onderskeidingsvermoë. Tesame met Sy Woord en Sy Gees is elke mens in staat om te weet wat reg en verkeerd is. Ons keuses op grond van hierdie waarhede bepaal grootliks ons eie toekoms sowel as die van ander wat ook deur ons besluite geraak word. Dis een van die belangrikste verskille tussen mens en dier. En wanneer ons ons oordeelsvermoë gebruik, dan beoordeel ons. Om iemand te wys op ‘n verkeerde leefstyl of -besluit is net tot sy voordeel. Om my kind te waarsku om nie op die middelbaan van die snelweg te speel nie, is nie veroordelend nie – dis goed vir sy gesondheid.  

Wees dus versigtig om jouself nooit skuldig te maak aan veroordeling van enigiemand nie; maar wees ook versigtig om jouself nooit daaraan skuldig te maak dat jy geen oordeelvermoë het nie – want dan is jy ‘n dwaas! En vir goeie oordeelvermoë het jy inligting nodig. My doel met hierdie webruimte is om jou ook ‘n ander kant te gee van die sake wat ek hier bespreek. Gebruik jou (hopelik) gesonde oordeel wat jy daarmee maak!  

Beroemde (berugte?) woorde – Tutu op die brandstapel

Hoor die afgelope week dat Desmond Tutu beweer dat alle goeie mense hemel toe gaan, ongeag of hulle Jesus Christus dien. Tutu was miskien ‘n goeie “comrade” in die stryd teen apartheid, maar sy insklusiwiteit ten opsigte van die Christelike geloof en wie die ewige lewe beërwe skiet ver tekort wanneer ons dit Bybels evalueer. Het dié ketter nooit die verhaal gelees van die ryk jong man wat Jesus gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe nie?

Wanneer hierdie man (die ryk jong man) na Jesus aangehardloop kom, vra hy Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?’ Jesus konfronteer hom met die vraag: “Waarom noem jy My goed?  Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Geen mens se werke, hoe goed ookal,  is voldoende om hom ‘n plek in God te teenwoordigheid te verseker nie!

Tutu moet ter wille van sy eie siel begin om met erns sy Bybel te bestudeer. Dit is ‘n groot tragedie dat iemand met soveel edele inbors, so ver van die waarheid afgedwaal het. Nog meer tragies is die feit dat sy boodskap ‘n menigte welmenende, soekende siele saamsleep hel toe.

Tutu (en talle ander Suid-Afrikaanse teoloë), het geen benul waaroor die evangelie gaan nie. Hul hoë publieke profiel verkoop ongelukkig hul dwalings. Tutu se “evangelie” (wat in wese geen “evangelie” is nie, hoe mooi dit ookal mag klink) tas die wese aan van Jesus Christus se versoeningsdood aan die kruis aan. Indien mense met goeie lewens en werke hul eie verlossing kan bewerk, dan maak God se verlossingsplan deur Jesus geen sin nie. Die Bybel leer baie duidelik dat alleen deur Jesus Christus, daar vir die mens versoening met God is.

Tutu se liefde vir sy medemens het baie goeie vrug gelewer in Suid Afrika. Maar wanneer dit kom by die Woord en die Christelike geloof, sal dit baie beter wees as hy hom eerder bemoei met dit wat hy sy hele lank mee besig was, naamlik die politiek. Wees versigtig om sy stories te glo – dit mag jou ‘n ewigheid weg van die aangesig van God kos! En as Tutu onbekeerlik op sy dwaalweg volhard, sal hy ook in die nabye toekoms ontdek dat sy boodskap bloot mooi, maar leë woorde was. Mag God hom bekeringsgenade skenk!

Vervloekte Valse Leraars

Dit is verseker ‘n teken van die eindtye waarin ons leef dat daar vandag soveel “ingeligte” teoloë is wat na 4 500 jaar se interpretasie van die Skrif (deur Heilige Gees gedrywe manne van God wat die Skrif saamgestel het sowel as ware profete en predikers van die Here ) hul verskyning maak met skielike “nuwe” eksegese van die Bybel.

Toegegee, daar was dikwels stryd in die kerk oor belangrike leerstellings, soos byvoorbeeld oor die Drie-Eenheid, of Jesus God-Mens is, oor Jesus se opstanding, ensovoorts. Dié eeue-oue stryd was egter die kerk tot voordeel. Daardeur het sistematiese teologie tot stand gekom en weet ons vandag wat ons weet oor God, die mens, sonde en ons groot verlossing. Wat egter beide interessant en kommerwekkend is, is die herdefiniëring van sonde – dinge wat vir eeue in die kerk (selfs deur die Jode in Ou Testamentiese tye) as sonde beskou is, is skielik nie meer sonde nie.

Dit mag op die oog af onbelangrik klink, maar ons mag nie vergeet dat dit sonde is wat mens van God skei nie. Op die heel “onskuldigste” veroorsaak sonde skeiding tussen God en Christen – daar vind ‘n breuk in gemeenskap tussen God en die oortredende individu plaas. Geen Christen wat sonde in sy lewe herberg (dit wil sê as herhaalde gewoonte-handeling) durf dink dat sy saak met God reg is nie. Op die heel minste verseker God ons dat Hy met ons sonde sal handel. Hy beloof dat Hy ons sal tugtig, omdat ‘n Vader wat sy kinders liefhet, sy kinders tugtig (Hebreërs 12:4-13). En indien ons nie ag gee op God se waarskuwing om ons te bekeer nie, mag God self besluit om ons lewens op aarde kort te knip, ter wille van die reinheid en heiligheid van sy kerk (1 Johannes 5:16).

Op sy ergste lei sonde die onbekeerde sondaar na ‘n ewige skeiding van God af in die ewige teistering van die hel se vuur. En hieruit is daar geen wegkomkans nie. Daarom moet ons, as ons vir mense omgee, hulle waarsku teen die ewigheidsbestemming van die ongeredde sondaar. Wat God aanbetref is daar een standaard van geregtigheid, en dit is die geregtigheid wat opgeteken is in die Skrif. Maar hoe gedaan as God se standaard nie meer die aanvaarde norm is nie? Wanneer natuurlik vir teennatuurlik verruil word; dit wat God vir die mens bedoel het, oorboord gegooi word? Nog erger, wanneer “leraars” God se orde omverwerp deur te aanvaar wat God verwerp – en dit van kansels af, in dagblaaie en op radioprogramme verkondig?

2 Petrus 2:1-3, 19 is so relevant vandag: “[Dat daar] valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het verloën …[om] uit hebsug met verdigte woorde voordeel uit [mense te] trek. Oor hulle is die oordeel van lankal nie werkeloos nie, en hul verderf sluimer nie! Hulle belowe vryheid … terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is.” 2 Timotheüs 3:13 waarsku dat hierdie goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger; hulle wat [ander] verlei en [self] verlei word.” Hoekom? “Omdat daar ‘n tyd sal wees wanneer [mense] nie die gesonde leer sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheüs 4:3-4). Die waarskuwing is dus dat mense in die laaste dae vals leraars rondom hul sal versamel wat preke sal lewer en mense onderrig om hulle in staat te stel om volgens hul wellus en dierlike instinkte te leef. Dis nie sonder rede dat die Bybel waarsku dat daar min leermeesters moet wees nie – want hul oordeel sal soveel groter wees (Jakobus 3:1).

Die boodskap van die Bybel is vir sondaars: God het ons lief en wil ons red sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef en kan weet dat ons die ewige lewe het. Maar God red die mens volgens s‎‎‎y terme – nie wat vir die mens redelik en aanvaarbaar is nie. God red van die gevolg van sonde (die dood), maar Hy red ook van sonde – sodat ons oorwinning oor sonde kan hê. Enigiemand wat minder as dít leer is ‘n valse leraar – hy verkondig ‘n valse evangelie. Paulus draai nie doekies om om valse leraars  daarop te wys dat God se vloek op hulle rus nie. Vir hulle wat Jesus Christus nie liefhet nie, sê hy dat hulle ‘n vervloeking is (1 Korinthiërs 16:22) en vir hulle wat enige ander evangelie verkondig as die ware evangelie, wens hy vervloeking toe! (Galasiërs 1:8-9). Volgens God se Woord, is leef almal wat Jesus Christus nie liefhet nie, onder vervloeking. En diegene wat ‘n ander evangelie as die ware evangelie verkondig, is ook vervloek. Net die dood staan tussen die voltrekking van hierdie vloek vir die individu ter sprake. Wanneer die dood intree word hierdie vloek ewig.

 Die ware evangelie is kosbaar, want dit is die krag van God tot redding (Romeine 1:16-17). Enige ander evangelie as die ware evangelie, is nie die “goeie nuus” van ‘n nuwe lewe vir altyd saam met God nie, maar die slegte nuus van pyniging in ‘n ewige verderf sonder God. Dit is daarom belangrik dat die evangelie wat ons verkondig, die ware evangelie is – die Waarheid. Daarom waarsku die Woord van God alle leraars (en enigiemand wat beweer dat hy B‎‎‎‎‎‎‎ybelse raad gee, maar dit nie gee nie) dat hulle wat ‘n ander evangelie as dié ware evangelie verkondig, ‘n vervloeking is!