Thumbsuckers!

Vervloekte Valse Leraars

Julie 14, 2007 · 6 Kommentaar

Dit is verseker ‘n teken van die eindtye waarin ons leef dat daar vandag soveel “ingeligte” teoloë is wat na 4 500 jaar se interpretasie van die Skrif (deur Heilige Gees gedrywe manne van God wat die Skrif saamgestel het sowel as ware profete en predikers van die Here ) hul verskyning maak met skielike “nuwe” eksegese van die Bybel.

Toegegee, daar was dikwels stryd in die kerk oor belangrike leerstellings, soos byvoorbeeld oor die Drie-Eenheid, of Jesus God-Mens is, oor Jesus se opstanding, ensovoorts. Dié eeue-oue stryd was egter die kerk tot voordeel. Daardeur het sistematiese teologie tot stand gekom en weet ons vandag wat ons weet oor God, die mens, sonde en ons groot verlossing. Wat egter beide interessant en kommerwekkend is, is die herdefiniëring van sonde – dinge wat vir eeue in die kerk (selfs deur die Jode in Ou Testamentiese tye) as sonde beskou is, is skielik nie meer sonde nie.

Dit mag op die oog af onbelangrik klink, maar ons mag nie vergeet dat dit sonde is wat mens van God skei nie. Op die heel “onskuldigste” veroorsaak sonde skeiding tussen God en Christen – daar vind ‘n breuk in gemeenskap tussen God en die oortredende individu plaas. Geen Christen wat sonde in sy lewe herberg (dit wil sê as herhaalde gewoonte-handeling) durf dink dat sy saak met God reg is nie. Op die heel minste verseker God ons dat Hy met ons sonde sal handel. Hy beloof dat Hy ons sal tugtig, omdat ‘n Vader wat sy kinders liefhet, sy kinders tugtig (Hebreërs 12:4-13). En indien ons nie ag gee op God se waarskuwing om ons te bekeer nie, mag God self besluit om ons lewens op aarde kort te knip, ter wille van die reinheid en heiligheid van sy kerk (1 Johannes 5:16).

Op sy ergste lei sonde die onbekeerde sondaar na ‘n ewige skeiding van God af in die ewige teistering van die hel se vuur. En hieruit is daar geen wegkomkans nie. Daarom moet ons, as ons vir mense omgee, hulle waarsku teen die ewigheidsbestemming van die ongeredde sondaar. Wat God aanbetref is daar een standaard van geregtigheid, en dit is die geregtigheid wat opgeteken is in die Skrif. Maar hoe gedaan as God se standaard nie meer die aanvaarde norm is nie? Wanneer natuurlik vir teennatuurlik verruil word; dit wat God vir die mens bedoel het, oorboord gegooi word? Nog erger, wanneer “leraars” God se orde omverwerp deur te aanvaar wat God verwerp – en dit van kansels af, in dagblaaie en op radioprogramme verkondig?

2 Petrus 2:1-3, 19 is so relevant vandag: “[Dat daar] valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het verloën …[om] uit hebsug met verdigte woorde voordeel uit [mense te] trek. Oor hulle is die oordeel van lankal nie werkeloos nie, en hul verderf sluimer nie! Hulle belowe vryheid … terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is.” 2 Timotheüs 3:13 waarsku dat hierdie goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger; hulle wat [ander] verlei en [self] verlei word.” Hoekom? “Omdat daar ‘n tyd sal wees wanneer [mense] nie die gesonde leer sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheüs 4:3-4). Die waarskuwing is dus dat mense in die laaste dae vals leraars rondom hul sal versamel wat preke sal lewer en mense onderrig om hulle in staat te stel om volgens hul wellus en dierlike instinkte te leef. Dis nie sonder rede dat die Bybel waarsku dat daar min leermeesters moet wees nie – want hul oordeel sal soveel groter wees (Jakobus 3:1).

Die boodskap van die Bybel is vir sondaars: God het ons lief en wil ons red sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef en kan weet dat ons die ewige lewe het. Maar God red die mens volgens s‎‎‎y terme – nie wat vir die mens redelik en aanvaarbaar is nie. God red van die gevolg van sonde (die dood), maar Hy red ook van sonde – sodat ons oorwinning oor sonde kan hê. Enigiemand wat minder as dít leer is ‘n valse leraar – hy verkondig ‘n valse evangelie. Paulus draai nie doekies om om valse leraars  daarop te wys dat God se vloek op hulle rus nie. Vir hulle wat Jesus Christus nie liefhet nie, sê hy dat hulle ‘n vervloeking is (1 Korinthiërs 16:22) en vir hulle wat enige ander evangelie verkondig as die ware evangelie, wens hy vervloeking toe! (Galasiërs 1:8-9). Volgens God se Woord, is leef almal wat Jesus Christus nie liefhet nie, onder vervloeking. En diegene wat ‘n ander evangelie as die ware evangelie verkondig, is ook vervloek. Net die dood staan tussen die voltrekking van hierdie vloek vir die individu ter sprake. Wanneer die dood intree word hierdie vloek ewig.

 Die ware evangelie is kosbaar, want dit is die krag van God tot redding (Romeine 1:16-17). Enige ander evangelie as die ware evangelie, is nie die “goeie nuus” van ‘n nuwe lewe vir altyd saam met God nie, maar die slegte nuus van pyniging in ‘n ewige verderf sonder God. Dit is daarom belangrik dat die evangelie wat ons verkondig, die ware evangelie is – die Waarheid. Daarom waarsku die Woord van God alle leraars (en enigiemand wat beweer dat hy B‎‎‎‎‎‎‎ybelse raad gee, maar dit nie gee nie) dat hulle wat ‘n ander evangelie as dié ware evangelie verkondig, ‘n vervloeking is!

Kategorië Bybel Vrae / Bible Questions · Christelike Lewe / Christian Life · Die Bybel oor Redding / The Bible on Salvation

6 responses so far ↓

  • hannes vrae // Julie 15, 2007 at 9:36 nm

    WAT IS DIE KENMERKE VAN (WARE LERAARS)
    1.LIEFDE
    2.
    3.
    4.
    5.
    6.
    7.

  • Family Radio AM 1197 (6pm-1am) // Julie 16, 2007 at 12:07 nm

    (2Th 2:3) Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf

    (2Th 2:4) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

    Staan die seun van die verderf (satan) wat homself voordoen as ‘n engel van die lig nie handeviervoet binne in die “kerk en kerkstrukture” nie….?

    En werk hy maar weer deur die “dienaars van geregtigheid” nie…?

    (2Co 11:14 en 15) En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

    Vreugde

    johannes coetzee

  • Roer // Julie 16, 2007 at 4:59 nm

    Profit se^ “Al die kindertjies van Jesus is nie popo’s nie”. As dit maar waar was.

    Hannes, beslis, maar om nie te waarsku nie is liefdeLOOS.

  • Johan Swarts // Augustus 3, 2007 at 3:00 nm

    prophet weet waarvan hulle praat. alhoewel ek theo geyser se preke te maklik sit en dekonstrueer en uitmekaar uit trek.

  • Roer // September 3, 2007 at 5:19 nm

    Oi! Nuwe post miskien? :-)

  • wolliem // November 29, 2007 at 9:52 nm

    Laat eerder die valse leeraars, in hul eie dwaling, vervloek wees. Dit is nie vir ons gegee om iemand te vervloek nie. Ons moet ons eerder rig daarop om te vergewe en in liefde, vermanning tot redding te propageer, sonder oordeel.
    Ware leraars, is nie huurlinge nie en openbaar ook die vrug van die Gees (Gal. 5 v 22 tot 26).

Lewer Kommentaar